Roudiens Huldeblyk deur Cornie Scheffer (Afrikaans)

Bedankings en huldeblyk – Roudiens van Louis Nel 29 April 2011

Liewe vriende, familie, kollegas, kennise, broers en susters in die Here.

Soos sommige van julle moontlik weet: Louis Nel was my skoonpa. Daarom, as julle nie omgee nie, sal ek na hom as “Pa Louis” verwys.

Elkeen van ons het hom op ‘n ander  manier geken… Sommige van julle het hom slegs as Louis geken, ander  weer as Mnr. Nel.  Sommige van julle het hom geken as die “Buddleja King” of die “Rebel without a pause”. Vir ander weer, was hy oom Louis, neef, swaer, broer, pappa of oupa.

Hy was ‘n regverdige besigheidsman, talentvolle bonsaier, entoesiastiese bergklimmer, uitblinker in sport, lojale vriend, liefdevolle Pa, oupa en eggenoot. In watter kapasiteit ookal, in alle kringe en op alle terreine was hy gewild en geliefd.  Hy het uitgeblink in dit wat hy aangepak het en sy heengaan laat ‘n groot leemte.

Ek wil begin om names die Nel-gesin ‘n paar bedankings te doen. Eerstens wil ek vir Ma René dankie sê vir die vertroue wat sy in my gestel het om hierdie takie te verrig  en ook ‘n kort huldeblyk aan Pa Louis te bring. Dit is vir my ‘n groot voorreg.

Ons wil almal bedank wat vandag hier is. Ons weet daar is ook baie wat nie hier kan wees nie, en ons wil almal bedank vir die e-posse, sms’e, telefoonoproepe en besoeke die afgelope week. Ons het talle e-posse van regoor die wêreld ontvang van Pa Louis se “Bonsai buddies”. Ook die mense wat saam met hom op sy bergklim-ekspedisies was, het boodskappe gestuur. Ek het nog nooit ‘n telefoon so baie hoor lui soos die afgelope week in die Nelle se huis nie. Ons waardeer al die boodskappe vreeslik baie.

Die nuus van Pa Louis se ongeluk was baie skielik, daarom wil ons graag al die vriende en familie bedank vir die onmiddellike bystand wat hulle verleen het. Sy dood was vir ons ‘n groot skok en ons wil almal bedank wat ons bygestaan het met raad en ondersteuning. Ek twyfel of ons gesin hierdie moeilike en deurmekaar tyd sou kon staande bly sonder al die hulp, in watter vorm ookal.  Die pratige blomme wat by die huis afgelwer is, het gehelp om darem bietjie kleur te gee aan die afgelope donker dae. Aan almal wat eetgoed kom aflewer het, baie dankie. Ons sal elkeen nog individueel bedank, want daar is bloot te veel om hier op te noem.

Ek wil net noem dat ons ‘n bladsy op die internet geskep het waar julle boodskappe vir die familie of gedagtes of herinneringe aan Pa Louis kan oplaai.  Die webadres is op die kaartjies wat by die tee beskikbaar sal wees.

Ons bedank vir Martins Begrafnisdienste vir die simpatieke wyse waarop hulle ons deur hierdie proses gehelp het.

Ons wil graag vir ds. Andre, wat altyd vir die Nelle en Pa Louis ‘n vriend was, bedank vir al die reëlings hier by die kerk. Ons waardeer dit baie.

Soos almal seker  weet, en ook vandag hier kan sien, het Pa Louis ‘n besondere liefde vir Bonsai gehad en ons wil vir oom Charles en die Bonsai manne baie dankie sê dat van Pa Louis se bome hier kan wees. Dankie vir die snoei vir die geleentheid asook die vervoer daarvan. Ek is seker dit is soos Pa Louis dit sou wou gehad het.

Na die diens sal verversings bedien word. Dankie aan die susters van die kerk, die Bonsai-groep, familie en vriendinne wat, op watter  wyse ookal, daarmee gehelp het. Ons waardeer dit opreg.

Oom Lammie Fourie, dankie vir daardie laaste oomblikke wat jy aan Pa Louis se sy was. Ons weet hy was in goeie geselskap en het in sy laaste oomblike gedoen wat hy geniet het.  Hy het besondere respek vir elke medehardloper  gehad en het dikwels by my gespog met sy “hardloopvrinne”.  Ek moes elke keer as ek saam met hom gaan hardloop het, hoor hoe goed julle is. Hy was baie trots op julle.

Ek hoop nie dat ek iemand wat bedank moes word, oorgeslaan het nie.

Soos ek genoem het, bring ek ook vandag hulde aan ‘n besondere skoonpa.

Hoe kan ‘n mens iemand soos Pa Louis opsom in net ‘n paar woorde? Dit is onmoontlik. Pa Louis het homself beskryf as iemand met ‘n liefde vir groot honde en klein boompies. Ek weet hy het altyd gesê “mag klein boompies tot groot vriendskappe lei”. As ek kyk na hoeveel Bonsai-vriende hy gehad het, is dit inderdaad so – daardie boompies is kleiner gesnoei, maar het gelei na groot en opregte vriendskappe.

Toe ek met sy oudste dogter, Zonia, begin uitgaan het, het hulle my vreeslik bang gepraat met Louis. Hy het teen daardie tyd al blykbaar ‘n paar voornemende kêrels in die pad gesteek. Dus was ek maar skrikkerig vir hom. En soos julle weet, was hy ‘n vroeg-oggend mens, en ek is nou nie juis op my stukke vroeg in die oggend nie. Gelukkig het ek Pa Louis se liefde vir sport gedeel; dus het ek hom probeer beïndruk deur  maar  vroeg op te staan om te saam te gaan draf of fietsry. Mettertyd was dit darem nie meer nodig om hom te beïndruk nie, en ons het ‘n werkbare kompromie aangegaan – draf- en fietsrytyd is verskuif na sesuur, in plaas van vyfuur soggens!

Natuurlik het ek gou besef dat almal my verniet bangepraat het met Pa Louis, want ek het hom leer ken as ‘n baie saggeaarde mens met ‘n besondere liefde vir sy medemens en vir die natuur.  Hy het uit sy pad gegaan om ander in nood te help. Dit geld nie net vir mense nie, maar ook vir diere en plante.

Een van sy byname was die “Buddleja King”. Hierdie bynaam het hy verwerf deur Buddleja-bome te red toe Atterburyweg hier in Pretoria verleng is. Hy kon dit nie verduur om te dink dat al daardie bome deur stootskrapers omgestoot gaan word nie, en het ywerig en onverpoosd gewerk om elkeen wat in die stootskrapers se pad is, te red.  Toe kom hy ook agter dat die Buddleja-bome eintlik baie goeie Bonsais kan maak en het daarna in Buddleja Bonsai begin spesialiseer.  Die “Budleja King” het ook ‘n boekie daaroor saamgestel.

‘n Ander bynaam was die “Rebel without a pause”, ‘n naam wat hy ook aan sy talent met Bonsais te danke het. Dié bynaam geld egter nie net sy Bonsaiwerk nie. Op alle terreine van sy lewe het hy hierdie bynaam gestand gedoen.  Die energie en entoesiasme waarmee hy alles aangepak het, was vir my, en ek is seker vir baie van julle, ‘n inspirasie. Sy onuitputlike bron van energie het ons eintlik moeg gemaak.  Hy was gedurig aan die gang, veral soggens vroeg! As hy by ons gekuier het, of as ek hier in Pretoria was,  het ek maar gesorg dat ek fiks is, want ek het geweet daar sal vroeg opgestaan moet word vir ‘n draffie – minstens 10 km!  Sodra jy hom leer ken het, het jy dan besef: by Louis was daar nie tyd vir “pouses” nie. Diegene wat wou byhou, moes maar seker maak dat daar genoeg energiedrankies byderhand is!

Die tweede deel van dié bynaam is vanweë sy onkonvensionele lewensuitkyk en sy ideale.  Ons weet dat een van die dinge wat hy baie graag nog wou doen, is om in ‘n grot in die Drakensberge saam met sy twee kleinkinders te gaan slaap. Ek dink daar is min oupas wat so avontuurlustig is!

Min van julle het dit dalk geweet, maar Pa Louis het gely aan Veelvuldige Sklerose (Multiple Sclirosis, MS) en by tye was dit vir hom ‘n beproewing. Hy het egter nooit daaroor gepraat of gekla nie. Hy het dit aangepak soos hy enige ander uitdaging in die lewe aangepak het.  Sy geliefkoosde sêding was: “ek moet net keer of dit gaan beter”! Op ‘n manier het die MS indirek gelei tot die stigting van BRUNEL, en BRUNEL was op die ou end sy groot droom wat waar geword het. Sonder om homself te spaar , het hy energie voluit daarin gestort en BRUNEL ‘n lewenstaak gemaak waarop hy baie trots was.  Hy het dikwels met my daaroor gepraat – die feit dat hy iets kon doen om te help om ander mense te kon werk gee wat sal sorg vir kos op die tafel, was by hom ‘n behoefte en hy wou vir soveel as moontlik mense geleenthede gee. Ons wil vandag vir almal wat saam met hom gewerk het, en gehelp het om sy BRUNEL-droom te verwesenlik, baie dankie sê. Lojaliteit was vir Pa Louis ‘n belangrike aspek in alles wat hy gedoen het. Ek is seker baie van sy verhoudings met werknemers, kollegas, verskaffers en kliënte was op lojaliteit gebou, en ek glo dit was hierdie uitkyk wat gehelp het om van BRUNEL ‘n sukses te maak.

In die dae toe ek my doktorsgraad gedoen het, was hy minder beïndruk met my keuse om verder te studeer. Hy het gesê: “Schef, al wat jy in die lewe nodig het, is ‘n ruggraat!”. Ek weet hy het dit nie letterlik bedoel nie, maar wat hy vir my probeer sê het, is dat sukses net moontlik is met harde werk en vaste beginsels. Dit het ook uitgeleef en vir hierdie voorbeeld sal ons hom ewig dankbaar bly.

For the sake of our English friends in the congregation, I will also say a few words in English.

It is often said that we must live every day as if it is our last day. I think my father-in-law really epitomized this saying. He was always seeking a new adventure and was never scared to tackle something new. He would just announce out of the blue “Oh, I just received my Northern Transvaal colours in Duathlon”. We barely knew he was doing duathlons! Or at the dinner table he would announce: “I am going to Everest next month” as if there is nothing unusual about it. Or at breakfast he would say “Oh yes, I have been invited to go to China next month to give a talk at an international Bonsai conference”, and then he would also add: “…perhaps while I am there, I will see if there are any nice mountains to climb!”.

The ancient Egyptians had a certain belief about death. They believed that when their souls got to the entrance of the afterlife, the guards asked two questions. Their answers to these questions determined whether they were able to enter or not. The questions were: “Have you found joy in your life?” and “Has your life brought joy to others?”. In the case of Louis, I think we can all agree that the answer to both these questions is an unequivocal YES!

Many people wrote to us about his wonderful sense of humour as well. He was always joking around and never took himself too serious. One person also wrote that during their climbing trips together, they thoroughly enjoyed all his jokes and that he always managed to lighten tense situations with his reasonable and rational temperament. Many work colleagues had similar experiences with him, and this is something we will always remember about him.

During this past week, when browsing through all the great things people write about him, I truly wish that one day when it is my turn to pass, people will think about me and remember me like they do of Louis. His life was inspirational, and his memory makes me want to be a better person. He was truly larger than life, and today we mourn his passing but we can also celebrate his life, a life that has brought inspiration and joy to all of us.

Vandag sou Pa Louis en Ma Rene 39 jaar getroud gewees het. Ek dink dit spreek ook  van sy lojaliteit as eggenoot en familieman. Dit was vir my vreeslik lekker om te sien hoe baie Pa Louis sy nuwe rol as oupa aangegryp en geniet het. Een van die hartseerste aspekte van Pa Louis se skielike heengaan is dat my kinders nie die voorreg sal hê om hom beter te leer ken nie. Pa Louis het my met oorgawe as een van sy eie kinders aangeneem.

Nou my laaste twee bedankings.  Eerstens, dankie Pa Louis dat jy dit moontlik gemaak het dat ek ‘n wonderlike gesin het. Jou nagedagtenis sal voortleef in my liefdevolle vrou en kinders, wat my lewe deel. Jy het hulle aan my toevertrou en daarvoor sal ek altyd dankbaar wees.

Ten slotte wil ek names ons almal dankie sê aan ons Hemelse Vader vir die voorreg wat Hy vir ons gegee het om Pa Louis te kon ken. Die wêreld is inderdaad ‘n armer plek sonder hom. Ek weet egter teen diétyd is almal in die hemel baie fikser as ‘n week gelede, hulle staan vroeg op vir ‘n draffie, moes al tweekeer gaan bergklim en daar staan  ten minste al een Bonsai by die poorte!

Pa Louis, ons almal gaan jou baie mis.

Baie dankie,

Scheffie

29 April 2011

%d bloggers like this: